For the past three months I’ve been working on a story series, inspired by the Beloved women in my life.
For the next two months I will be sharing these stories… so watch this space…
For the past three months I’ve been working on a story series, inspired by the Beloved women in my life.
For the next two months I will be sharing these stories… so watch this space…
Ek staan in ‘n ry, 1.5 meter van ‘n tannie met ‘n masker, handskoene, 2 pakke toiletpapier en 12 blikkies tuna. Die hele ry is soos ‘n scene uit Lucky Luke behalwe, die skurke is nou tannies en in plaas van ‘n serpie om die mond en ‘n pistool in die hand, staan die tannies met maskers en toiletpapier.
Nou kyk mens maak nie ‘n grap van ‘n wêreld-epidemie nie, maar mens moet ook kan lag met ‘n traan. Maar soos ek staan, wonder ek wat hulle met die toiletpapier gaan maak na die epidemie? Dalk paper mache Baked Beans as die rakke leegloop?
Maar soos ek self uitstap met 18 rolle, dink ek wat gaan na die epidemie gebeur. Almal skryf en deel tans oulike goedjies oor hoe die aardbol nou kan rus, hoe ons emosioneel nader aan mekaar moet begin leef en dan is daar die odd quote wat sê dit is tyd vir self-refleksie? Maar wie het tyd? Nou meer as ooit het ons meer skottelgoed omdat ons nou tyd het om twee bakkies spaghetti te eet in plaas van een. Almal is nou tuis, so die wasgoed is meer as ooit.
Maar daar lê waarde in self-refleksie en ondersoek. Die enigste probleem is as jy soos ek vir jare al die tools, boeke en meditasie tapes het en dit nooit gebruik of geluister het nie. Wat gaan jou nou inspireer as jy eerder kan laat slaap en Netflix kyk? Maar die antwoord is eenvoudig: Gerhard, maak tyd!
Ek maak toe tyd, maar wonder is dit dalk nie te laat vir refleksie of om my purpose te vind nie? Dit het by my gespook soos die pakkie Smarties in my kas wat ek gekoop het vir as ons uit Smarties hardloop. Dit is toe dat ek besluit het, ons kan nie meer wag vir Maandag om te begin nie. Nou is die tyd. Ek het my boeke afgestof en begin lees en mediteer.
Maar wat as ons weer vrygelaat word om in die strate te flankeer? Gaan ons terugkeur na ou gewoontes of gaan ons voortbou op innerlike vreugde? Is 21 dae immers genoeg om sorted te wees en terug te keer na die samelewing? Wel, meeste sê dit neem 21 dae om ‘n goeie gewoonte aan te leer; en alhoewel ons hopelik nog net 10 dae oor het, hoop ek dit is genoeg tyd om aksie te neem.
Hulle sê jy word gemeet aan jou vriende, maar wat as daardie vriendskap gebaseer is op brandewyn? Jy bestel onmiddellik ‘n dubbel. Maar voor jy dink: “Gerhard, meng jou met die semels dan vreet die varke jou op,” laat ek verduidelik.
Vir my, kry mens vriende wat daar is deur dik en dun en dan kry jy ‘n vriendskap wat jou hart smelt soos kaas op ‘n braaibroodjie. So ‘n vriend is gewoonlik so skaars soos ‘n Karlien van Jaarsveld CD in my kar. Maar wanneer jy so ‘n vriendskap vind, bewaar jy dit diep in jou hart.
Liewe Jesus het vir my op ‘n Saterdag in Maart een so ‘n vriendjie gestuur. Dit was bloedig warm en al wat die dors kon les was ‘n ou brandewyntjie. Hy was laat en al wat my tot en met vandag bybly is sy Diesel hemp (wat my laat wonder het oor die semels-gesegde) en die feit dat hy onophoudelik gepraat het. Maar ons het al voorheen ontmoet; hy was 4 of 5 en ek 9 of 10. Ons pa’s het saam ‘n visvangtrip Klein Kariba toe beplan. Ek het net vinning gegroet en onder my bed gaan wegkruip. Dis die dat hy tot vandag net ons St Bernard kan onthou.
Maar op daardie bloedige dag in Kaapstad het ek geweet dat ek nie net ‘n vriend ryker geword nie, maar wel iets meer kosbaar as die eerste perfekte pannekoek – ‘n broer. Iemand op wie jy kan staatmaak en vertrou; al is hy soms laat. Iemand met integriteit en geloof. In kort, ‘n kerkmens. Maar ook een wie se kattekwaad enige vuur sal laat smeul.
Ons is deur baie in die afgelope 8 jaar: blydskap, hartseer, woede, avonture, Woollies se malva-poeding. Maar vir ‘n meer kosbare broer kon ek nie gevra het nie.
Vir my is Pierré Jacobs se vriendskap meer as net ‘n hoofstuk in ‘n boek; dit is iets wat ervaar en bewaar moet word. Sy menswaardigheid en nederigheid strek so ver soos ‘n grondpad in die Karoo. Hy het ‘n hart van platinum en sy huis en hart was nog altyd oop vir my; met of sonder ‘n wing. Nie net is sy vriendskap vir my so vertroostend soos reën op ‘n sinkdak nie, maar dit is ‘n voorbeeld van hoe ons as mense mekaar moet koester.
Ek is innig dankbaar vir die voorbeeld wat hy stel; soet of stout. Dankbaar dat hy sonder oordeel (okay, soms met ‘n opinie en ‘n geligte wenkbrou) my toelaat om net te wéés. Hy het hy my geleer om die oomblik in te neem, want ons kan later post. Verder leer hy my elke dag dat die lewe ‘n song is wat kliphard gespeel moet word.
Buiten dit alles bly hy vir my my brother-from-another-mother. Laat ons dit tog nou vir eens en altyd in die mense se koppe kry. Want broederskap is soveel meer kosbaar as enige iets anders.
Meeste mense weet nou al dat as daar ‘n kamera in my rigting verskyn, is die pose reeds daar. Die angle, die smile, die Blue-Steel-LOOK. Alles mooi geoefen om die beste beeld die wêreld in te stuur.
Deesdae is tegnieke om model te speel vrylik beskikbaar. Daar is YouTube-videos, ‘n boek deur Kim Kardashian … maar in 2010 was dit ek en my spieël. Die uitkoms: vier smiles – een vir geluk, een vir hartseer, een vir woede en een vir los-my-uit.
Is dit ‘n masker? Watter trauma het aanleiding gegee? Wie weet nog? Ek weet nie, maar wat ek wel kan onthou is dat ek selfs as kind vreeslik bewus was van hoe ek myself aan die wêreld oordra. Onlangs leer ek via ‘n vriend se blog dat hy elke foto haarfyn beplan. Te danke aan Facebook en Instagram is almal nou Naomi Campbell, almal ‘n influencer, almal ‘n brand. “It is all about selling yourself, darling,” glo sommige. Maar vir jare “verkoop” ons onsself aan ‘n lewensmaat, vriende, werkgewers. Die verskil is net ons het dit nie op sosiale media gelaai nie; nie obsessief geraak oor followers of likes nie.
Maar onlangs, terwyl ek in die spieël kyk, besef ek dat dit verder strek as sosiale media … Maya Angelou se woorde weergalm in my binneste terwyl ek na my refleksie staar: “I’ve learned that people will forget what you said; people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel.”
Dit was sekondes na ek afgekom het op twee karikature wat ek tydens ‘n funksie laat skets het. Daar was drie kunstenaars. Vir die eerste een het ek mooi stilgesit en my ogies laat skitter. Die resultaat: pragtig. Later staan ek weer in die ry, opgewonde vir nog ‘n portret, maar it is first-come-first-serve en ek beland by een wat mense soos ‘n clown laat lyk. Hy nooi my vriendelik om te sit. Ek antwoord: “Nee dankie, ek wag vir die ander een.” Maar die ry is lank, so ek sit maar. Die resultaat: Ek is reg vir die sirkus. Hy het duidelik nie gedink ek is snaaks nie; ek het duidelik ‘n ego gekneus. Ek loop hom nou nog by funksies raak en al groet ek vriendelik, vermy hy my.
So oefen maar jou smile, maar onthou ook om ‘n smile in jou hart te dra. Meeste onthou hom.
As pimpernimpie het ek onder my ma se Husqvarna gesit terwyl afvallappies oor my gesig val. Besoeke aan Tannie Jo Nel se winkel is drapeer in Vogue patrone, materiaal en knope. En my Barbies was gereeld geklee in selfvertroue.
My lewe was mooi gebalanseerd; met my Fiat-trekkertjies wat gereeld lande geploeg het; met ’n hoed op my kop. As ek skape getel het was daar ’n kleurvolle lint in my vellies. Wanneer ek saam met pappa melk afgelewer het, het my bersie altyd by my pantoffels gepas.
Al hierdie herinneringe is gestik in die platteland; ’n plek waar verbeelding soms verdor deur “wat sal die mense sê” Of nog erger: “dink”.
Maar mens trek nie sommer jou menswees los nie, of altans jy behoort nie, want jy behoort jou eie patroon te knip en nie deur ander se ontwerpe te leef nie. Maar ons is net mens. Ons wil inpas; ook die winkelpop wees. Ek is weer geleer jy neem alles eers op sig, pas by die huis aan en besluit dan.
Nou hoekom word ons gereeld ’n tweedehandse klerebank van iemand anders? Ek weet nie; dalk is dit verkeerde rolmodelle, dalk is dit die tekort aan rolmodelle… Nataniël se skeppings kan die platteland net só ver inspireer. Wat my hoop gee, is die feit dat daar nog wel muses is, bekend of onbekend, wat hulle eie naat stik. Hulle is soos knope; jy kry hulle in verskillende kleure, vorms en materiale. Naamloses wat die strate gebruik as hulle loopplank; dié wat jy kan sien is hulle eie meter van wees.
Ons behoort hulle as maatband te gebruik; as inspirasie terwyl ons ons eie nate stik!
Once upon a time I knew a goddess, a fairy, a whore. Her name was Delilah, a fashion editor that led little ballerinas to believe in Chanel, Monte Carlo and George Clooney. She never had a permanent address but lived somewhere über chic and always entertained lavishly with Dom Pérignon and Beluga caviar. We met at the funeral of a famous modernist artist, who painted with his blood.
“Why do you look like a flamingo, DARLING?” she said in vintage Dior.
“I promised Tzar that I wouldn’t mourn his death but celebrate my own life,” I answered.
“Well you look fabulous, DARLING. Pink is the new black, DARLING. You can quote me on that, DARLING. ‘Delilah declares that pink will save us all.’ You have to join me and Plato and some of the others for a cocktail or twenty after all of this,” she invited me.
That night I learned of a world that included philosophy, literature and the secret of acceptance.
The next day Delilah invited me to a charity ball for people who lived on glue. I accepted.
“You look like Cinderella!” I greeted her on the steps.
“OH NO DARLING, that’s never a good thing. It means that I am that ordinary girl who only has one second to be beautiful. No one wants to be that girl, DARLING,” she said, dripping with Cartier.
That night I discovered a society of politics, money and power.
The next day I received a VIP invite to attend the opening of a new club in Woodstock.
“You look like a slut!” I greeted her at the bar.
“AHHHH! Thank you, DARLING. Now come, I want you to meet Dimitri,” she responded while opening a bottle of Louis Roederer champagne.
That night I became a citizen of a universe that included beauty, lust and alcohol.
The next morning Delilah arrived at my door.
“We are going to Tokyo DARLING. Li is sponsoring,” she said while clutching the latest impossible to get Louis Vuitton bag.
On that trip I experienced a galaxy of culture, tradition and saki.
A week later, Delilah had to fly to Paris for Fashion Week.
“You are obviously accompanying me, DARLING. Mama needs her lucky charm,” she said while pouring her fifth Mimosa for the morning.
That week I lived in a town that was built on the outskirts of talent, bulimia and chiffon.
After arriving back in Cape Town, I did not hear from Delilah till one rainy afternoon in winter.
“DARLING, join me and Bacchus for a couple of bottles of his latest vintage. The car is at your door,” she demanded.
I entered the cellar, lit by candles and the smell of fermented fantasy, and saw her clutching the hand of a famous wine master, who was very publicly married to a previous Miss SA.
That day I graduated from the University of Passion, Adultery and Cabernet Franc.
A week later Delilah called me just before the sun showed its face on the horizon.
“Help me!” she said softly.
I found her in a back alley with street cats and the aroma of hell, barely covered with a black bag. Her being shivered as her eyes met mine. She started to talk.
“We live our lives according to a Bible of desire and little white lies.
We sacrifice our integrity and our morals for the possibility of a dream.
We pretend to care for the helpless and only cry with the animals when we are hunted.
We are only of this moment and only as good as our last performance.
Alone, committed, sad, happy, rich, poor, gorgeous, ugly, young or old – these words will define you if you sell your soul to a world that will forget about you tomorrow.
And why do we do all these things? Just so that we can put a flag on the top of Maslow’s Pyramid that reads: ‘Delilah was here. She made it. She achieved what others only dreamt of.’
Is this a life of meaning, a life of substance, a life at all?
I am not ashamed to admit that I enjoyed a life of passion.
I am not embarrassed to admit that I am more intrigued by a life of splendour.
I am not humiliated by what I have become.
I am not mortified to admit these things, nor would I change any of my decisions.
I am at the end of the rainbow; only human after all. Honesty, truthfulness, loyalty, sincerity and, above all else, integrity should be your legacy.
But I chose; I wrote the story of my life, I defined, I ruled, I prayed, I died, I am reborn.”
I looked at Delilah and saw the mascara streaking her face as she spoke these truths. Her scars were canyons, her faith beaten to death, her emotions running towards the fires of hell, but her being glided slowly to heaven.
I only saw her once after that. It was yesterday. She is working for Greenpeace and apprenticing for PETA. She only wears white cotton, just eats organic, is married to her faith and the proud mother of all the children that Brangelina did not adopt.
Ek het al baie oor Irma Albers geskryf, gewoonlik net op haar verjaarsdag, maar hierdie formidabele engel wat leef op haar eie ritme, wat inspireer met haar liefde en drukkies, het my onlangs geleer dat jou waarde nie lê in ‘n leer wat jy klim nie; jou waarde lê in die vrede wat jy in jou hart koester.
In haar teenwoordigheid is daar drie bronne energie wat jou omvou: 1. Liefde 2. Vrede en 3. Kreatiwiteit. Dit omvou jou soos ‘n kombers in winter. Snoesig, salig en beskermend. Dit neem jou na plekke waar jy nog in die mensdom en feetjies glo. Waar jou hart sag kan rus op die ritme van haar asemhaling.
Op ‘n Woensdag, 9 jaar gelede, het sy in my lewe ingesweef. Haar rug was na my gedraai. Ek was huiwerig om myself voor te stel; sy was saam met een of ander minister. Maar Jean-Mari het bly aanmoedig: “Jy moet haar ontmoet!” En klokslag het my lewe verander. Soos ‘n bloeisel wat bot in die lente het sy haar plek in my lewe gevind.
Ons tweede ontmoeting was by Oude Libertas; sy het my genooi vir ‘n koppie tee. Met die intrapslag is ek gegroet met ‘n drukkie. Op een of ander manier het die gesprek na my ideale werk gedraai. Sonder om te aarsel, het ek gesê: “Ek wil Oude Libertas se Creative Director wees. Om met brands saam te span en inisiatiewe te loots met die kunste.” Met ‘n sagte stem het sy geantwoord: “Nou skryf die job description”. Ek het, en dit gefile op my PC, maar nooit aangestuur nie. So het die droom soos gras in die somer verdor.
Na die ontmoeting het ek elke denkbare manier gevind om in haar teenwoordigheid te wees. Ek het probeer om saam met haar te werk om net ‘n stukkie hemel te beleef. En toe in 2016 word dit ‘n werklikheid. Vir vier maande het ons aan mekaar gekleef; hierdie sou die fondasie vorm van ‘n vriendskap so sterk soos ‘n herfswind.
Sedert sy Distell verlaat het, het haar lewe wye draaie geloop. Sy is getoets (op verskeie maniere) maar het staande gebly. Onlangs sit ons op ‘n stoep met ‘n wyntjie. Ek kla en sy troos; sy huil en ek vertel ‘n grappie. Ons begin gesels oor hoe die samelewing die pad byster geraak het; waar een persoon se ego ‘n ander se gemoed regeer, waar niemand mekaar ‘n plekkie in die son gun nie. Al val daar ‘n boom in jou pad moet jy maar oorklim en aangaan.
“Gertjie, al waarop ons werklik kan vertrou is ons interne kompas. Ons moet die mens wees wat ons van ander verwag om te wees; elke uitdaging evalueer teen die waardes waarvoor ons staan en ons moenie toelaat dat ander ons definieer nie. Jou waarde lê in die vrede wat jy in jou hart dra, en al is dit soms moeilik om staande te bly, moet jy vertrou op jou kompas.”
Soos ek elke woord herkou, verkyk ek my aan haar. Verstom deur die waarheid besef ek meteens: Vriende is engele op aarde.
Iewers in my lewe het ek die volgende raakgelees: “As jy nog nie geskrik het vir jou drome nie, het jy nog nie groot genoeg gedroom nie.” So wat beteken dit? Moet mens nou permanent in ‘n eier van vrees leef?
In 2000, was my droom om Suid Afrika se volgende Christian Dior te wees, maar tydens ‘n ATKV – winterskool, het my drome in ‘n wurm verander namate ek oorweldig was met ander se talent. In 2008 was die droom om troues te koördineer. Die wurm het groter geword toe elke tweede siel in die Kaap troues begin beplan. So bevind ek my op Saterdag 24 Augustus by die Baxter Teater; elke vyfde mens wens my voorspoed toe met my nuwe avontuur. Tydens die vertoning tref dit my weer: al die talent daarbuite; het die wêreld my stories nodig? Ek deel my vraag met Tracey Saunders. Sy kyk my stip in die oë, glimlag en sê: “Yes, Gerhard. Everyone has their unique voice and story and it should be heard.” Wat my onmiddellik herinner aan ‘n aanhaling deur Martha Graham wat ek al te graag in toesprake gebruik.
“There is a vitality, a life force, an energy, a quickening that is translated through you into action, and because there is only one of you in all of time, this expression is unique. And if you block it, it will never exist through any other medium and it will be lost. The world will not have it. It is not your business to determine how good it is, nor how valuable, nor how it compares with other expressions. It is your business to keep it yours, clearly and directly, to keep the channel open. You do not even have to believe in yourself or your work. You have to keep yourself open and aware to the urges that motivate you. Keep the channel open… No artist is pleased. [There is] no satisfaction whatever at any time. There is only a queer divine dissatisfaction, a blessed unrest that keeps us marching and makes us more alive than the others.”
Om jouself te omvou in ‘n koekon van onsekerheid is normaal (so word ek vertel), solank dit gepaard gaan met positiewe denke en gewoonlik ‘n “vision board”. Die heelal moet weet jy glo ook in jou drome. Elizabeth Gilbert skryf weer in Big Magic: “Do whatever brings you to life. Follow your own fascinations, obsessions, and compulsions. Trust them. Create whatever causes a revolution in your heart.”
So, terwyl die revolusie in my gemoed broei, weet ek dat die papie in een ma-moese skoenlapper sal verander. Ek glo so. Ek wéét so. Want drome is soos vlinders, Skat! Hulle is mooi en oulik, maar dit neem ‘n tydjie voor hulle vlieg.
Om die droom vlerke te gee, besoek asseblief https://www.thundafund.com/project/woordeskat en ondersteun deur een van die volgende 4 opsies:
1. Dankie: Vir ‘n donasie van R150 sal jou naam verskyn in die dankielys.
2. Getekende boek: Vir ‘n donasie van R250 sal jy ‘n getekende kopie van my boek kry.
3. Getekende boek en afdruk van kunswerk: Vir ‘n donasie van R500 sal jy ‘n getekende kopie asook een van tien afdrukke van Jean Mari Jacobs se Woorde, Skat skildery ontvang.
4. Getekende boek en oorspronklike kunswerk: As jy ‘n donasie van R2000 maak, sal jy ‘n getekende kopie asook die oorspronklike Woorde, Skat skildery bekom.
Die gesprek het so begin: “Ek wil jou stories publiseer.” Die reaksie: “Hoekom?” Sy staar na my soos een wie se roomys geval het. “Want jy is awesomeness wrapped in rainbows.” En so skop twee jaar se slakkepas af.
Lizelle was nog altyd een van daardie wesens wat nooit nee vir ‘n antwoord vat nie. Sy is ‘n vrye gees wat graag ‘n avontuur aandurf met ‘n sak vol geloof. Sy kyk verby die onmoontlike, en laat liefde agter, soos Hansie en Grietjie se broodkrummels. Sy is die meesterbrein agter hierdie projek, maar meer as dit, sy bly ‘n engel wat geduldig ondersteun.
Vinnig-vinnig het die droomwewers gegroei: Surina, Jean-Mari en Mareza. Elkeen met ‘n magdom talent wat stene op die fondasie bou.
Te danke aan Surina het die boek ‘n omslag ryker geword. Surina is een van daardie engele wat kreatiwiteit haar huis noem, maar steeds ‘n voltydse ma en vrou is. Sy is soos die sagte klanke van ‘n viool: troostend, rustig, en wat jou laat reis na wêrelde waar drome nederig bid.
Alhoewel dit oortuiging geneem het, het Jean-Mari ingestem om ‘n kunswerk te skilder vir die binneblaaie. Op daardie stadium het ons al 4 jaar gepraat oor die kunswerk – maar Jean-Mari, net soos haar drukkies, het die projek omvou met liefde.
As dit nie vir Mareza was nie, sou die hele wêreld lag vir my spelling en grammatika. Sy is die een wat glo en aanmoedig, die een wat geduldig my versoeke entertain, basies die Coke in my brandewyn. Nie net kan sy vir jou binne drie sekondes foute uitlig nie, sy doen so met die gemoed van ‘n moeder.
Dan is daar die huidige en toekomstige droombeleggers; elkeen wat aanmoedig en ondersteun. Wat glo wanneer ek twyfel, wat MCC skink om elke bydrae te vier, en wat die droom saam met my weef.
Vir meer inligting, besoek asseblief https://www.thundafund.com/project/woordeskat en deel in die vreugde op sosiale media …
Facebook: https://www.facebook.com/gerhard.claassens
Instagram: https://www.instagram.com/prins_pierewiet/
Doer in die Vrystaat, tussen mielielande en die maan, was daar ‘n pippernimpie wie se eerste woord Ultra Mel was. Alhoewel sy liefde vir woorde eers later sou bot, soos bloeisels in die lente, het hy ‘n wegkruipplek gevind in die wonder van woorde.
My naam is Gerhard Claassens en ek is ‘n storieverteller. Let wel, ek ag myself as geen Tolla van der Merwe of Nataniël nie, maar ek glo stories is ons enigste nalatenskap om mekaar te onthou. Stories inspireer nie net nie; dit leer jou soms ‘n les.
As baba het ek letters geklank om my liefde vir Ultra Mel te beskryf. As kleuter het ek met woorde gesmokkel om my sin te kry. As tiener het ek sinne gestring om te ontvlug na my eie wêreld. As student het ek paragrawe geskryf om my liefde vir brandewyn te regverdig. As volwassene voeg ek elke dag nog ‘n hoofstuk by tot my lewe.
Nooit het ek myself as ‘n skrywer geag nie; skryf was bloot ‘n vorm van terapie. En toe in 2013, te danke aan Alison Bradley, word ek bekendgestel aan Riana Scheepers. Om die waarheid te sê, ek het nie geweet wie Riana Scheepers is nie, maar op 7 Oktober 2013 het my hele wêreld verander. Tussen ‘n skare van 10 is my verbeelding oopgevlek met literatuur, musiek en wyn. En daar in die holte van ‘n kelder het ‘n geloof begin fermenteer dat woorde genesing bring. Ons is ook geleer dat om te publiseer nie noodwendig die doel is nie en dat dit in enige vorm kan voorkom, selfs op die agterkant van ‘n sjampoebottel. My keuse was om, soos almal, te blog.
In 2017 het alles verander. Tussen die wynlande, oor ‘n merkwaardige glas Sauvignon Blanc, het Lizelle Torr my verras met die idee om my stories vir my verjaarsdag te publiseer. Aanvanklik sou dit net een boek wees, maar Lizelle dink gewoonlik groter as die meeste van ons en dus praat ons nou van 100. So is die veldtog van stapel gestuur. Dit het wel 3 jaar geneem voor ek my eendjies in ‘n ry sou kry.
En hier staan ons nou, met stories in die sak, reg om dit met die wêreld te deel. En ons het julle hulp nodig, want wie gaan nou vir ‘n uitgewer wag? Ek is immers geleer dat as jy te lank wag, val jou drome vinnig-vinnig soos meel deur ‘n sif.
Alle drome het engele nodig, so vir meer inligting, besoek asseblief die befondsing veltog op https://www.thundafund.com/project/woordeskat en deel in die vreugde op sosiale media …
Facebook: https://www.facebook.com/gerhard.claassens
Instagram: https://www.instagram.com/prins_pierewiet/